Okabra Aton verkoop vir N$172 000
- 067triangle
- May 29, 2024
- 1 min read
Okabra Aton 20-714OKB word deur die Schneiders beskryf as ‘n bul wat al die nodige eienskappe het om as ‘n stoetvaar gebruik te kan wprd. Sy ma, bekend vir haar uitstekende uier en genetika, word steeds in die Okabra-stoet gebruik. Sy pa is die bekende Australiese vaar Elrose Bentley.
Die Okabra-boeredag op Saterdag 25 Mei deur Grootfontein se Schneider-familie het op 'n hoë noot afgesluit toe die bul Okabra Aton (20-714OKB) vir N$172 000 aan die Brahmaan-teler Sidney Martin verkoop is.
Altesaam vier van die tien Okabra-bulle op aanbod is teen ‘n gemiddelde prys van N$74 000 verkoop: Twee vir die prys van N$40 000 elk en ‘n derde bul vir N$44 000.
Vanjaar was dit die tweede keer dat die nuwe Helmsman-veilingstelsel tydens die veiling gebruik is – die keer het die Schneiders en Agra saamgespan om 'n digitale platform te ontwikkel, wat kopers in staat gestel het om beide aanlyn en op die perseel te bie.
Sowat 150 mense het die boeredag op die familieplaas Okamutombe bygewoon, waarvan vanjaar se tema “veerkragtigheid” was.
Vyf kenners het dié tema uit verskillende invalshoeke benader: Die Universiteit van Namibië (Unam) se prof. Helmke Von Bach het gepraat oor hoe die Namibiese lewendehawesektor op die toekoms behoort voor te berei, terwyl die kliniese sielkundige dr. Käthe Burkhardt gefokus het op hoe boere die uitdagings van die lewe die hoof kan bied sonder om hul veerkrag te verloor.
Suid-Afrika se uitvoerende hoof van die Rooivleis Produsente-organisasie (RPO) het raad oor finansiële veerkragtigheid gegee terwyl Reimo Schneider, die veteraanboer Mecki se seun en ‘n vierde generasie boer op die familieplaas oor veerkragtigheid in koei-herkonsepsie en kuddegenetika gepraat het.
コメント