top of page

Get your advertisement here! 

Nell ‘bevry’ dorp van tonne vullis

Almal wen in rommel-oorlog

‘n Enkele vrou bevry Grootfontein van tot 20 ton rommel elke een tot drie maande, terwyl die Nell-familie se herwinningsaanleg ‘n broodnodige bron van inkomste vir talle straatkinders en haweloses op die dorp is.

Chanté Nell van Grootfontein Recycling is 'n trotse lid van Rent-A-Drum, wat die rommel by haar kom haal en na hul sorteringsaanleg in Windhoek neem.

Plastiek, papier, glas, blikkies en kartonbokse word opgekoop, gebaal en dan na Rent-A-Drum gestuur. Daar word ook ou batterye asook velle en horings opgekoop.

Heel glasbottels word teruggekoop vanaf die publiek vir SAB Miller, Namib Breweries en Distillers.

Ander glasbottels word ook fyn gebreek en weggestuur om herwin te word. “Al kry ek nie werklik geld hiervoor nie, gaan dit vir my meer daaroor dat ons die wêreld skoonmaak,” vertel sy.

Grootfontein Recycling is daagliks ‘n miernes van mense wat uitgesorteerde rommel vir herwinning bring – met van Nell se mees getroue kliënte wat tot N$300 per dag verdien.

“Ek is eintlik maar ‘n ‘greeny’, al eet ek vleis en biltong,” spot sy. “Ek gee om en glo in bewaring. Hoe lank gaan ons nog alles op die ashope stort en dit toekrap? Wat as dit in ons waterbronne beland, waarop ons in die Noorde ons so op roem?” vra sy. “Op die ou einde van die dag gaan dit nie vir my oor geld nie, maar oor die prinsiep.”


Heenkome

Verskeie werklose mense en straatkinders bring vir haar herwinbare rommel, waarvoor hulle betaal word.

“Dit is hoe hulle elke dag kos kan koop. Hulle bring dit in, dit word geweeg en hulle word betaal,” vertel Nell.

Grootfontein het ook tussen 50 en 60 mense wat op die dorp se vullishope in "huise" van plastieksakke leef – sommige van hulle is kinders, ander volwassenes wat tussen 40 en 50 jaar oud is.

Dié mense het egter ook begin om herwinbare vullis vir Nell te sorteer en bymekaar te maak. “Dit is vir hulle ‘n inkomste. Hulle stap letterlik 12 km om die herwinbare items vir my te bring. "

Soms, as hulle baie herwinbare rommel bymekaar het, gaan tel Nell dit met ‘n sleepwa op.

“Hulle noem hulleself die Saamstaan-groep. Hulle sit al hul geld saam wat hulle elke dag uit die herwinning maak om kos te koop,” vertel Nell.



PVC

Nell sê hulle kan alle plastiek herwin, maar net nie PVC nie. "Enige bottels van skoonmaakprodukte, sjampoo- en skottelgoedseepbottels kan ek herwin. Daar is hier en daar goeters soos baba-poeierbottels, wat PVC-plastiek is.

“Ons het nie iemand hier wat PVC kan herwin nie, tog kan dit byvoorbeeld by bousand ingewerk word en op die manier as ‘n goedkoop boumateriaal herbenut word,” het sy verduideik. Nell sê sy ondersoek tans maniere om PVC in bakstene te gebruik, in samewerking met die National Youth Service op Rietfontein.

Grootfontein Recycling herwin ook metaal – ligte staal wat na Scrap Salvage gaan en yster wat in vraghouers Dubai toe gaan.

VMS Recycling Oshakati neem ook al hul koper, sink, alluminium, lood en brons.

Elektroniese ware wat by haar afgegee word, word op haar perseel uitmekaar gehaal en sorteer. “Nami-green spesialiseer in die herwinning van elektroniese ware – ek sorteer dit en stuur dit vir hulle,” vertel sy. Die Nelle herwin reeds vir 25 jaar lank skrootyster.



Gemeenskap

“Ten minste 70% van die rommel wat mense in hul huise weggooi, is herwinbaar. Die ander 30% is PVC of kos,” vertel sy. Sy hoop om binnekort plastieksakke aan huishoudings in die dorp te kan versprei, sodat inwoners ook hul rommel kan sorteer.

Nell plaas ook dromme by skole, waar rommel sorteer en herwin word. Sy hoop om na nog meer skole, asook na informele nedersettings in die dorp uit te brei.

“As skole deel van ons span wil word, laat weet hulle my en ons kom plaas asdromme by hulle waarin rommel sorteer word. Ons kom tel dit elke Vrydag weer op,” vertel Nell.

“Ek teken alles aan wat op die manier herwin word, sodat ‘n mens later kan sien wie hoeveel herwin het.”



Comentarios


oh!sixseven.png

Hi, thanks for stopping by!

Own a business? Want to reach customers in the 067-valley? We can help!

Let the news
come to you.

Thanks for submitting!

  • Facebook
  • Instagram
  • Twitter
  • Pinterest
bottom of page