Outjo maak naam met sy wild
Terwyl die Outjo Wildsfees weer hope pret was vir oud en jonk met verskeie kunstenaars wat opgetree het, talle uitstallers en groot pret vir die kinders, is die hoogste bod van N$340 vir ‘n renoster tydens die Outjo-wildsveiling betaal.
Die fees, wat aanvanklik deur die Otjikondo-boerevereniging begin is, is vanjaar vir die eerste keer op ‘n splinternuwe feesterrein aangebied – net sowat 10 km buite Outjo op die Khorixas-pad. Die hart van die fees bly egter wild – en dus die wildveiling.
Hoë pryse
Volgens Agra en verskeie ander rolspelers is ‘n uiterse suksesvolle veiling op Saterdag 26 Augustus gehou, met ‘n omset van sowat N$4,9 miljoen en algemene hoë pryse wat vir wild betaal is.
Daar is sowat N$140 000 vir ‘n swartwitpensbul betaal, terwyl bestergemsbokverse vir N$120 000 verkoop het en ‘n Lechwe-bul vir N$60 000. Daar is ook N$19 000 per Damara Dik Dik betaal en N$26 000 vir ‘n koedoebul.
Dirk du Preez van Du Preez Wild, wat die gasheer van die veiling was, het gesê hulle is uiters tevrede met die resultate van die wildveiling gewees. Dit is die tiende jaar wat hulle by die wildsveiling betrokke is.
Blink toekoms
Dirk sê die toekoms van die wildbedryf is blink. Tans is daar ook ‘n oplewing in die bedryf, terwyl wild skaars is en die sterk vraag hoë pryse dryf, meen hy.
Dirk is reeds die derde generasie van Du Preez wat die suksesvolle wildonderneming dryf vanaf hul “’hoofbasis” net sowat 20 km buite Otjiwarongo. “Die volgende geslag Du Preez hol al daar rond,” het hy grappenderwys vertel.
Du Preez Wild word as ‘n baie betroubare onderneming beskou wat veral betrokke is in die verskuiwing van wild.
コメント